Wednesday 25 June 2014

RESPONS OP SOVEEL NAVRAE IN CASU DE BEER FAMILIE GESKIEDENIS

BELANGSTELLENDE DE BEER FAMILIE LEDE EN VRIENDE
 
Sedert ek my "BLOG" - aanlyn dagboek begin het oor die de Beer familie / naam / herkoms ens., was dit altyd lekker om soveel ander de Beers dmv die rekenaar te "ontmoet".  Die meeste navrae het ek na Jaleen de Beer verwys wat die De Beer familiegeskiedenis op datum hou en wat mens op CD van haar kan bestel.  Haar oorspronklike mede navorser, Diwwie de Beer, is nie meer aktief betrokke met die byhou van die familie geskiedenis nie as gevolg van sy gevorderde lewensjare.
 
Sommige De Beers het my ook telefonies geskakel en ander per e-pos of Facebook gekommunikeer.
 
Mense was verbaas om te verneem dat Diwwie en Jaleen se genealogiese navorsing van die mees volledigste is in Suid Afrika.  Hulle werk is bekroon deur die SA Genealogiese vereniging en geniet hoë aansien in navorsingskringe.
 
My "navorsing" is nie so wetenskaplik nie, maar meer 'n stokperdjie vir my pensioenjare.  Nogtans baie stimulerend soos byvoorbeeld:
 
  • Die De Beer lyn terug tot in Rusland, Swede, Switserland, Holland en die diaspora oor die res van die wêreld;
  • In Suid Afrika aangekom, het die De Beers vining versprei vanuit die Kaap na Kweekvallei --vandag Prins Albert -- duskant die Swartberg pas.  Die Fransie Pienaar museum in Prins Albert is 'n besliste "moet" om te besoek...die begraafplaas is ongelukkig verwaarloos;
  • Vandaar af loop die de Beers in verskeie rigtings, soos saam met Piet Retief se Voortrekkers na Natal (sy vrou was De Bora Retief, née De Beer) terwyl die ander na die hedendaagse Kimberley getrek het.  Die De Beers diamant maatskappy het sy naam van die eienaar van die oorspronklike plaas waar die meeste diamante ontdek is, ontleen;
  • In Kimberley het die De Beer familie 'n prominente rol gespeel in die vestiging van die Sewendaagse Adventiste Kerk denominasie...die eerste in Afrika;
  • Ander de Beers het verder getrek tot hoog in die ou Transvaal en ondermeer gehelp met die bou van die Hartebeespoort dam en die aanlê van waterkanale na die hedendaagse Brits.  De Beers soos Bakie de Beer, het met tabak begin boer.  'n Boekpublikasie het oor sy nalatenskap verskyn;en
  • De Beer name en vanne wat in die Anglo Boere oorlog geveg of gesterf het is orals te kry waar daar gedendstene of museums is wat die oorlogsgeskiedenis bewaar.
 
Die meeste van bogenoemde inligting kan in my Blog publikasies gelees word deur net te konsentreer op die opskrifte (Labels).  Groot dele van my Blog bestaan uit ander navoringsonderwerpe soos byvoorbeeld VN-vredesmagopleiding, afstands-of "Open Distance Education" en ander diverse belangstellings (houtwerk artefakte) en aktuele sake soos die uiters gevaarlike toestande op Suid Afrika se nasionale- en sekondêre padnetwerke.
 
Omrede daar so baie de Beers in die buiteland woon en werk, publiseer ek meesal in Engels onder die "Karel" link en in Afrikaans sover moontlik onder die "Kallie" -link.  Lewer gerus kommentaar en sien ook die aantal kere wat my Blog gekontak was.  Groete, Kallie de Beer