Wednesday 7 December 2011

AUNTIE HANNETJIE VAN DER BERG (née de BEER)

Our English readers are kindly requested to use Google Translate from AFRIKAANS to UK English re: The eldest sister of my father, Barend Petrus De Beer.

Tannie Hannetjie wat eergister oorlede is op 90 jarige leeftyd in die Welbedacht Aftreeoord in Uitsig, Bloemfontein, is die laaste lid van haar groepie familie wat vandag ter ruste gelê word te Bloemfontein. Sy en haar suster, Dolly (Magdelena. M) het saam met hulle broers Barend (my vader), oom Flip, oom Willem en oom Karel op Petrusburg groot geword. Tannie Dolly het meesal by hulle ouma op die plaas Voigtspos, drie kilometer buite Petrusburg gebly omdat die spoorweghuisie langs die Bloemfontein / Petrusburg trajek te klein was. Sy en haar suster het met twee van der Berg broers in die distrik getrou en in Brakpan gaan woon waar hulle mans in die goudmyne gewerk het. Tannie Hannetjie en oom Willie, haar man, het vyf kinders gehad. Ongelukkig is haar eerste dogterjie oorlede aan witseerkeel. Sy het haar hele lewe nie werklik oor die trauma van haar kleuterdogterjie se dood gekom nie. Nadat oom Willie genoeg geld gespaar het wat hy by die myn verdien het, het hy 'n plaas naby Maselspoort gekoop (see location on map). Haar oudste seun, Frans het 'n bankier geword en na sy aftrede op die familieplaas, ALFA, gaan aftree. Sy twee seuns woon en werk tans in die VSA.

Karel Johannes van der Berg, ons tweede oudste neef, boer ook op 'n plaas naby Verkeerdevlei in dieselfde omgewing. Karel is baie familie- vas en het reeds saamtrekke gehou waarby hy sy oorlede moeder se De Beer-afstammelinge ook uitgenooi het. Sy twee dogters en twee seuns woon en werk ook in dieselfde omgewing terwyl sy vrou, Alta, kleinkinders op hulle plaas help grootmaak.

Willie van der Berg, die derde broer is 'n predikant en boer deeltyds in Ritchie, langs die Modderrivier, naby Kimberley. Sy seun, Willem van der Berg, is 'n vryskut joernalis terwyl sy suster help omsien na die huishouding.

Hulle tweede suster, Helene, is oorlede aan kanker. Haar drie kinders woon en werk in die Goudveld, onderskeidelik in Welkom en Virginia.

Tannie Hannetjie was 'n boervrou deur en deur. In die lang somervakansies het ek en my broers op die plaas gaan kuier.  Natuurlik onthou ons altyd heel eerste die groot pannekoeke as kinders. Sy het meer vars eiers en baie meel en "primusse) gehad as ons op die dorp. So vinnig as wat my neefs haar help pannekoek bak het, so vinnig het ons dit soos ruspers verorber!  Daarna, baie vrugte gaan eet in die boord. Swart barlinka druiwe, vye, appelkose, perskes en so nou en dan 'n spanspek of pere. Te veel om te onthou. Tannie Hannetjie was net altyd besorg oor ons rooi gebrande velle en gebarste voetsole na die vakansie met: "Wat gaan julle Ma daaarvan sê..." Sy en my ma het 'n besonderse en baie hegte familieband met mekaar gedeel. Oom Willie het haar gereeld by my ma kom aflaai wanneer hy vendusues bygewoon het.  My Tannie het vir my 'n krimpvarkie vir my verjaarsdag gebring en daarna kapokhoendertjie waarmee ek in ons agterplaas geboer het.

Slagtyd in die winter het my pa 'n bees by oom Willie gekoop wat sy my ma en pa gehelp het met die opsny van kookvleis, sopbene en biltong terwyl ons kinders die worsstopper moes draai. 'n Hele dag se harde werk, maar in 'n vrolike gees van grappies en natuurlik die worsie op die kole kort-kort gaan proe. Iets onvergeetliks vir 'n stadskind...

Gelukkig kon Tannie Hannetjie darem 'n paar ou foto's van die De Beer-familie vir my leen om in te skandeer op my Blog (sien vorige publikasies). Sy het ook so hier en daar vertel oor haar oorlede moeder se Van Rooyen-familie in Mafeking. Oom Daantjie, haar neef, het oor een honderd jaar oud geword en gereeld met haar kontak gehou tot en met sy dood. 'n Kostelike besitting wat sy my gegee het, is die 'voorbereidingsboekie' vir die aflegging van haar geloofsbelydenis in die Gereformeerde Kerk in Mafeking. Hulle leeraar was 'n ene ds. Peroldt.  Sy het ook kantaantekeninge gemaak in haar Hoog Hollandse Bybel en 'n briefie bewaar van haar dominee.  Ek beskik vandag oor al twee die Hollandse Bybels van  my groot ouers (aan vader-en moederskant) wat ek saam bewaar.

Van die De Beer-geskiedenis op Petrusburg kon sy nie veel meer vertel as wat my pa my reeds oor ingelig het nie.  Behalwe die swaer- kry in die ekonomiese depressie van die dertiger jare.  Haar pa, Karel Johannes de Beer, het tot voor sy dood gereeld elke jaar sy spoorwegvrypas vanaf Petrusburg gebruik om vir ons te kuier en 'n lang ruk op die plaas by Tannie Hannetjie-hulle.

Noudat al vier broers en die twee susters saam met hulle vader en moeder en afgestorwe familie "slaap" onder die veilige bewaking van die Vader totdat Jesus weer kom om 'n nuwe kosmiese bedeling te vestig, betree ons neefs en niggies ons eie era van familie aangewesenheid...